ENGELAND – ’n Vrou is Dinsdag gevonnis na die moord op die 7-jarige Emily Bolton in Maart vanjaar.
Eltiona Skana (30) is Dinsdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis na sy skuldig gepleit het op aanklag van strafbare manslag.
Volgens die Manchester-polisie is Skana op grond van die Wet op Geestesgesondheid gevonnis en is sy as ’n gevaarlike misdadiger verklaar.
Die 7-jarige Emily het op 22 Maart 2020 op haar fietsie saam met haar ouers deur Queen’s Park in Manchester, Engeland, gery. Sy het van haar pa tot by haar ma gery, maar voordat sy by haar ma kon kom, het Skana, wat op ’n bankie in die park gesit het, skielik op Emily afgestorm en haar met ’n mes aangeval.
Emily se pa het dadelik na Emily toe gehardloop en Skana het probeer weghardloop. ’n Lid van die publiek het Skana agternagesit en kon haar vang en vashou tot die polisie op die toneel opgedaag het.
EDaar is met Emily na ‘n hospitaal gejaag, maar sy het ’n noodlottige wond aan haar nek opgedoen en is oorlede.
Skana was sedert die insident in aanhouding.



