Monique (Nicqie) Robinson (34), ’n identiteit stileerder en sosiale media-beïnvloeder, is onlangs gekies as een van die Sarie top-10 voorbladgesigte. Hier gesels sy met FiND iT oor hoekom sy ingeskryf het en hoe sy ander wil help om hulself te wees.
Hoekom Sarie-voorbladgesig?
“Ek het ’n paar jaar terug ook vir Sarie voorbladgesig ingeskryf, maar daar het niks daarvan gekom nie. Toe ek hierdie jaar die kompetisie se lese sien – Jy is genoeg – het ek weer besluit om in te skryf omdat dit presies die boodskap is wat ek aan mense wil oordra.”
Nicqie sê dit was vir haar ’n groot verrassing toe sy die nuus kry dat sy as een van die top 10 gekies is aangesien meer as 70 000 vroue per jaar inskryf.
“Dit gaan egter oor die boodskap wat saam met dit gaan. Ek wil graag die boodskap oordra dat jy genoeg is soos wat jy is. Natuurlik wil almal hulle beste self wees, maar jy moet weet dat wanneer als soos grimering, mooi klere, juwele ensovoorts wegval, jy steeds genoeg is.”
Nog altyd ’n droom
Nicqie en haar man, Cyril, is al vir 11 jaar getroud en het twee kinders van vyf en drie jaar oud. Nicqui het al van skooldae af van stilering gehou en baie ure in die biblioteek deurgebring waar sy boeke oor stilering bestudeer het. “Ek het in daardie stadium nie geweet mens kan ’n beroep daaruit maak nie, so ek het na skool verbruikerswetenskap gaan studeer.”
Nicqie het as onderwyser begin werk en na ses jaar was sy sielsongelukkig. “Vier jaar gelede het ek kursesse begin doen in Stylering en voorkomskonsultasie. In 2019 het ek begin met ’n visiebord en besluit om stap vir stap nader aan die droom van my eie besigheid te begin beweeg ek die besluit geneem om my eie ding te begin.”
Boodskap aan ander
“Vind uit wat werk vir jou. Stel vir jou doelwitte en neem dit een stap op ’n slag. Deel jou ondervinding met iemand. Mense is geneig om eerder stil te bly. Werk daaraan om die beste jy moontlik te wees, maar weet, ongeag wat, jy is genoeg.”
Nicqie sê sy wil deur haar video’s waarde aan mense se lewens heg en hulle help om hulself te vind. Haar video’s gaan ook oor stylings wenke vir verskillende liggaamsvorms, gesigvorms ensovoorts.
Sy sal in Desember uitvind of sy die Sarie-voorbladgesigkompetisie gewen het.
Volg vir Nicqie op Facebook @Nicqie en instagram @NicqieRobinson.




