Voortrekkerkamp eindig tragies

Deel hierdie storie / Share this story

PRETORIA – Mariëtte Engelbrecht (52) en haar dogter Ronel (11), asook Nina Strydom (11) en Marli van der Vyver (11) was almal in dieselfde voertuig toe ‘n ongeluk al vier se lewens geëis het.

Ronel, Nina en Marli was al drie Drawwertjies by die Kruithoring-Voortrekkerkommando en gr. 5-leerlinge van Laerskool Menlopark.

Die drie meisies en Mariëtte was op pad huis toe na ’n Plaaslewe-kamp toe die ongeluk plaasgevind het.

“Ons harte gaan uit na almal wat hierdeur geraak word en ons bid dat die Here almal sal vertroos en deur hierdie moeilike tyd sal dra,” sê Corlia Botha, hoofsekretaris van die Transvaal Voortrekkers.

Boodskappe van medelye met die meisies se gesinne en vriende stroom reeds in op sosiale media. Ander Voortrekkerkommando’s het ook hul medelye uitgespreek.

“Ons harte is stukkend, maar ons dink met liefde en medelye aan hul gesinne, families en vriende in hierdie bitter tyd van skok en rou, en ons bid dat God hulle sal troos met sy vrede wat alle verstand te bowe gaan. Ons dink ook aan die Dassies en aan Tanya, hul spanoffisier, wat só lief vir elke Dassie-meisiekind is. Die verlies is onberekenbaar” sê Denina Barnard, kommandoleier van die Kruithoring-kommando.