“Dis amazing om te sien hoe oud-Springbokke meer as bereid is om ‘n trui te gee om te help om van die Care4Kings-projek ‘n sukses te maak. Almal is happy om te help. Die rugbygemeenskap van oraloor staan saam en kyk na mekaar.”
Só sê Stefan Ungerer (27), een van die voormalige Southern King-rugbyspelers, wat in September moes hoor dat sy rugbydroom onder sy voete uitgeruk is.
Ungerer het vir 18 maande vir die Kings gespeel toe hulle op ‘n Saterdagoggend ‘n vergadering moes bywoon. In dié vergadering moes die spelers uitvind dat daar nie genoeg fondse is om te kan aanhou speel nie en dat almal hulle werk verloor.
“Ons was almal net na die hele lockdown-storie baie keen om weer te begin oefen en om die ander ouens weer te sien. Ons het net weer begin oefen toe hulle vir die vergadering gevra het,” vertel Ungerer.
Ungerer, wat weer teruggetrek het na sy ouers in Natal, sê hy is nog hoopvol om met sy rugbyloopbaan te kan aangaan. “My agent soek nog vir my vir kontrakte. Ons bly hoopvol dat my toekoms steeds rugby inhou.”
Braam van Straaten, voormalige afrigter van die Kings, het met die Care4Kings-projek begin om geld in te samel vir die Kings-spelers.
“En ek kan nie in woorde sit hoeveel die Care4Kings-projek en Braam se moeite vir ons almal beteken nie. Ons was so ‘n rukkie terug by ‘n toernooi, die World Ten Series, en Braam kon die ouens wat nié by die toernooi was nie, met die geld wat deur die Care4Kings-projek ingesamel is, betaal,” sê Ungerer.
“Dis ongelooflik hoeveel lewenslange verhoudings mens bou in die rugbywêreld. Almal is happy om te help.”
Ungerer moedig enigiemand aan om ook aan die Care4Kings-veiling, wat tot vanaand 20:00 aanhou, deel te neem. “Ek weet dit was vir almal ‘n baie moeilike jaar en daarom wil ek dankie sê vir almal wat sover enige vorm van ‘n bydrae gelewer het.”
Daar is ongelooflike memorabilia om op te bie.
“Verbeel jou dit was jou laaitie wie se droom onder sy voete uitgeruk is. Enigiemand wat kan, asseblief ondersteun die projek!”
Gaan na www.care4kings.co.za om te bie.



