Beloning vir vermiste Nikita (14) nou R20 000

Deel hierdie storie / Share this story

SPRINGS – “Ek en sy is soos Bonnie en Clyde. Ons kan enigiets bespreek en dis maklik vir ons om enige probleme uit te sorteer. Ek dink regtig nie dat sy hierdie keer weggeloop het nie.”

Só sê Ordette Lottering oor haar 14-jarige dogter, Nikita, wat Maandag spoorloos verdwyn het.

Nikita is ‘n gr. 8-leerling aan Hoërskool Hugenote in Springs. Sy het Maandag by haar peetma, of soos sy haar genoem het, haar ouma, gekuier.

Nikita se ouma het haar 18:15 probeer bel, maar haar selfoon was af en is sedertdien steeds nie weer aangeskakel nie.

“Sy het haar ouma 17:00 Maandagmiddag gevra of sy gou na haar boetie toe kan loop. Sy was daar en het weer na haar ouma teruggegaan. Toe sy 18:00 vra of sy gou weer na hom toe kan gaan, het haar ouma vir haar gesê nee. Hulle sou binnekort eet. Nikita het toe mooi gevra en gesê sy sal gou maak, sy wil net hê dat haar boetie haar met haar selfoon help. Haar ouma het ingestem en dis die laaste keer wat sy haar gesien het.”

Ordette sê ten spyte van die feit dat haar dogter vantevore van haar pa se huis in Pretoria af weggeloop het, glo sy nie nou dat dit die geval is nie. “Ek dink regtig nie dat sy hierdie keer weggeloop het nie. Sy het nie klere, haar selfoon se laaier óf haar oorfone gevat nie. En sy is baie erg oor haar selfoon se laaier. Ek kan verkeerd wees, maar ek is byna oortuig daarvan.”

Die eerste maal wat Nikita weggeloop het, was oor ‘n kêrel. Die tweede maal was as gevolg van “reëls en regulasies”. “En dis iets wat ek nie hier het nie. Ek en sy verstaan mekaar.”

Ordette vertel die polisie was by al Nikita se vriende, maar kon geen leidrade vind oor waar sy is nie. “Daar is nog net een of twee vriende wie se inligting ons Maandag by die skool moet kry, maar die res weet nie waar sy is nie.”

Nikita het nie ‘n bankkaart of enige kontant by haar gehad ten tye van haar verdwyning nie.

Ordette het intussen die beloning vir haar dogter se veilige opsporing van R2 000 na R20 000 opgestoot.

Sy vertel hoe sy intussen al boodskappe van Nigeriërs af ontvang het wat ‘n gedeelte van die beloning vooruit eis in ruil vir inligting oor waar haar dogter is.

“Die polisie het my eers uitgehaal oor die beloning wat ek uitgeloof het, maar ek het vir hulle gesê om hulleself in my skoene te sit. Ek is desperaat om my dogter op te spoor.”

“Selfs al hét jy weggeloop, asseblief my kind, laat weet my net jy is okay en die soektog kan gestaak word. Ons kan later uitsort wat jou pla. Laat weet my net jy is veilig.”