’n Ma is in hegtenis geneem toe dit aan die lig gekom het dat sy haar seun glo vir 28 jaar in hulle woonstel toegesluit het. Na wat berig word, was die man ondervoed en het hy skaars tande gehad toe hy gevind is.
Ola Osterling, Stockhölm-polisiewoordvoerder, sê die man was vir ’n “baie lang tyd” in die woonstel in Swede toegesluit. “Volgens verslae het die ma hom toe hy 12 jaar oud was, uit die skool gehaal en hom sedertdien in die woonstel gevange gehou.”
Volgens verslae het ’n onbekende familielid op die seun (nou 41) afgekom toe sy ma na die hospitaal geneem is. “Hy het verskeie sere op sy bene gehad, hy kon skaars loop, het byna geen tande gehad nie en kon nie regtig praat nie.”
Volgens die familielid was die woonstel vuil, vol stof en uriene. “Dit het vrot geruik,” het sy gesê. “Ek moes deur hope rommel loop om deur die gang te kom.”
Die ma, in haar 70’s, staan nou tereg op aanklagte van onwettige verhindering van vryheid, basiese opvoeding en menseregte en langdurige fisiese mishandeling. Volgens die Sweedse vervolgingseenheid het die ma al die misdade ontken.



