April 19, 2021

8-jarige deur slang gepik

Foto's: Verskaf

KIMBERLEY – “Ons was baie verlig om te hoor dit was toe eintlik net ‘n bruin huisslang. Sy het baie groot geskrik. Ek ook nogal,” sê Lorraine Beuzana ná haar 8-jarige dogtertjie gisteraand net na nege in hulle kombuis in Roodepan deur ‘n slang gepik is.

“Ek was in die kamer saam met my ander kind toe ek gehoor het hoe sy skree. Die slang het oor haar voete geseil en haar op haar regtervoet gepik. Ek het haar na die kamer geroep en die deur dadelik gesluit!”

Beuzana sê hulle het gelukkig nie lank vir die ambulans gewag nie. “Ek was besig om links en regs te bel, so ek kan nie onthou presies hoe lank ons vir hulle gewag het nie.”

Die ambulanspersoneel het haar dogter gestabiliseer toe hulle by die huis aangekom het en haar toe na die hospitaal geneem sodat sy die nodige behandeling kon ontvang.

Ryno Griesel van Kimberley Snake Rescue sê hy het net na nege die oproep gekry. “Toe ek daar aankom, het ek vir omtrent twee ure na die slang gesoek. Ek het die kombuis en die res van die huis deursoek en toe ek vir ‘n tweede keer deur die kombuis is, het ek op ‘n boks afgekom. Ek het eers net onder die boks gekyk, maar toe ek daarna binne-in kyk, het ek die slang gesien.”

Griesel vertel hoe die slang hom self ‘n paar keer gepik het. “Dit was maar ‘n aggressiewe slang. Ek kon hom sommer met my hand verwyder. Gelukkig is hy heeltemal onskadelik.”

Hy het die hospitaal in kennis gestel dat die slang se pik onskadelik vir die dogtertjie is en sy is ontslaan.

“Die natuurbewaring-voorskrifte sê duidelik dat ek die slang 15 tot 20 km buite die dorp moet vrylaat, daar waar hy vir geen mens ‘n bedreiging is nie. So, selfs al is dit ‘n onskadelike huisslang wat eintlik goed is daarmee om peste soos muise uit jou huis te hou, moet ek hom buite die dorp gaan vrylaat.”

Beuzana sê sy is dankbaar vir Griesel se kennis en die manier waarop hy almal by haar huis ingelig en ondersteun het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: