April 19, 2021

My hel op ‘Gummy Berry Juice’

nikita gummy berry juice

Foto's: Verskaf

“Daai ding is ’n drug op sy eie. Ek wil nooit in my lewe weer so afhanklik en bewerig wees en niks eet of slaap nie.”

Nakita Willemse (34) wou toe sy jonger was ook soos ander maerder wees as wat sy was. Sy het, onwetend van die invloed wat dit op haar lewe sou hê, vir haar ’n botteltjie Gummy Berry Juice gekoop om die ekstra gewiggies af te skud.

“Ek was 21 toe ek dit begin drink het. Aanvanklik het ek nie regtig gewig verloor nie. Ek het toe net al meer begin drink, minder begin eet en minder begin slaap,” vertel sy.

Willemse sê sy het soms soveel as drie bottels Gummy Berry Juice in een week gedrink.

“Ek was veronderstel om net ’n teelepel vol in die oggend te drink. Ek het begin om slukke op ‘n slag te vat en dan later in die dag wéér.”

“Ek was heeltemal daaraan verslaaf. Dinge het so ver gevorder dat ek gejok het oor wie die botteltjies wat ek koop, gebruik. Jy moes name opgee van persone vir wie jy koop en ek het later name begin opmaak.”

Willemse sê haar gesin het vir haar gesê dat sy daarmee sal moet ophou. “My pa het gesê ek begin soos ’n geraamte lyk. Ek het lelike donker kringe om my oë gehad.”

Willemse se pad na ’n maerder lyf het toe vinnig in die heel verkeerde pad verander. “Ek het gereeld woedeuitbarstings gekry. Ek was verskriklik buierig en het gereeld met die mense rondom my baklei. Ek het selfs depressief geraak. Bo en behalwe die hartkloppings en angsaanvalle, was ek so paranoïes dat ek snags in my bed gelê en na die verkeer geluister het. Ek het myself elke kort-kort verbeel dat ek ’n ongeluk hoor gebeur en dan het ek oor die muurtjie gaan loer.”

Willemse vertel sy moes ’n dokter gaan sien oor sy vermoed het dat sy ’n hartaanval kry. “Ek moes later kalmeerpille drink net om my hartkloppings onder beheer te kry.”

Toe Willemse op ’n plaas gaan bly het, kon sy haarself uit die kloue van dié dieetsap loswikkel. Omdat sy nie meer so na aan die apteek gebly het nie, kon sy haar sterk wilskrag inspan en besluit om heeltemal op te hou om dié sap te drink.

“Gelukkig het ek ’n baie sterk persoonlikheid wanneer dit by sulke tipe dinge kom en kon ek besluit tot hier toe en nie verder nie. Dis egter nie vir almal die geval nie en daarom moet mense van sulke dinge af wegbly.”

Verder sê Willemse dis kommerwekkend hoe baie vroue op baie sterk medikasie en behandeling is om gewig te verloor.

“Ek was destyds obsessief oor my gewig en ek het ’n wanpersepsie gehad van hoe ek moes lyk. Ek wou net ‘maer’ wees. As ek nou na ou foto’s kyk, besef ek dat ek dit regtig nie nodig gehad het nie. Ek is in elk geval nou baie gelukkiger met my lyf as wat ek was toe ek Gummy Berry Juice gebruik het.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: