Die radiostasie RSG sluit nie en Afrikaans word nie bedreig nie, sê Magdaleen Kruger, bestuurder van RSG, Donderdagmiddag op Spektrum.
Dit volg na die SAUK verlede week aangekondig het dat 400 van sy 3 000 werknemers afgelê word om kostes te besnoei.
“Dit is ’n pluimpie vir RSG en vir Afrikaans omdat RSG se luisteraars so lojaal is,” sê Kruger. “Daar kan selfs in die toekoms ’n uitbreiding van RSG en Afrikaanse radio kom.”
“Nee, RSG gaan nie toegemaak word of ophou om te bestaan nie. Dit is fopnuus en dit is kwaadwillig,” sê Kruger verder. “Die personeel het afleggingsbriewe gekry. Hulle sal nou die kans kry om aansoek te doen vir die nuwe poste binne die nuwe struktuur wat die stasie nog verder in ’n nuwe bedeling sal inneem.”
“Martelize Brink, Haidee Muller, Johan Rademan, Jacqui January en Fritz Klaaste sal steeds op RSG gehoor word, maar ons sal met hulle gesels oor vryskutkontrakte.”
“Ek sê weer, RSG gaan nie sy deure sluit nie. Hy gaan uitbrei. Dis ook nie ’n aanval op Afrikaans of ’n bepaalde kultuurgroep nie.”



