November 30, 2020

Angsoomblik toe egpaar in Pretoria oorval word

PRETORIA. – “’n Blou motor het teenaan ons motor by die robot gestop. Daarna het nog ’n motor naby ons motor kom staan. Binne sekondes was daar ’n klomp taxi’s rondom ons motor. Hulle het die ruite begin stukkend slaan en ons het besef ons sal moet uitklim en weghardloop, anders gaan hulle ons aanrand.”

Die ruite begin stukkend slaan

Dit is Santie (59) se woorde oor hulle angsoomblik in Pretoria toe betogers haar en haar man, pastoor Joël (66), gister aangeval het. Volgens haar was hulle bewus van die betoging in die hoofpaaie. Hulle was op pad apteek toe en het nie die hoofpad gebruik nie. Santie sê daar het mans uit die twee motors wat eerste teenaan hulle motor gestop het, uitgeklim. Volgens Santie het die taxi’s net ewe skielik verskyn en ’n groep het op hulle motor afgestorm en daar was geen uitkomkans vir hulle nie. Daarna het die groep die ruite van die motor begin stukkend slaan. Sy sê haar man het aan haar opdrag gegee om uit te klim en weg te hardloop sodat hulle haar nie aanval nie.

Later het sy skote gehoor

“Terwyl ek hardloop, het ek teruggekyk en gesien hoe hulle my man uit die kar uitpluk en op die grond rondgooi. Twee polisiebeamptes het naby ons motor gestaan. Hulle het op daardie oomblik niks gedoen nie. Die polisiebeamptes het nie eers probeer help nie,” sê Santie. Sy sê later het sy skote gehoor. Sy vermoed polisiebeamptes het toe rubberkoeëls geskiet waarna die mans gevlug het en my man gelos het.

God se genade

Sy het haar man na die voorval dadelik na die hospitaal geneem waar hy skanderings ondergaan het. “My man het ribbes gebreek en het ’n paar kneusplekke aan sy lyf. My man is nie baie gesond nie en ek hoop nie sy toestand vererger nie.”

Santie sê God het hulle gehelp deur die voorval. “Dit is deur Sy genade dat hulle nie my man doodgemaak het nie.”

Santie sê hulle is tans by die polisiestasie om ’n klag te lê.

Volg FiND iT hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *