February 28, 2021

Leerling in hegtenis na hy met vuurwapen by skool betrap is

Foto: Unsplash

BETHELSDORP – ’n Graad 11-leerling (18) is gister by ‘n skool op Bethelsdorp in hegtenis geneem nadat ’n vuurwapen in sy besit gekry is.

Kol. Priscilla Naidoo, polisiewoordvoerder, sê polisielede het vinnig reageer op inligting dat ’n skolier moontlik in die besit van ’n vuurwapen by die skool is.

“Toe hulle by die skool gekom het, is hulle na die klas geneem,” sê sy. “Toe hulle aan die leerlinge verduidelik waarom hulle by die skool is, het ’n leerling na een van die beamptes geloop en gesê dat hy iets in sy tas het.”

Die leerling is uit die klas verwyder en toe die polisie sy tas deursoek, het hulle op ’n .38-rewolwer en ammunisie afgekom. Die reeksnommer was afgevyl.

Die leerling is in hegtenis geneem en sal na verwagting binnekort in die hof verskyn op aanklag van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: