Boodskap om slagoffers van selfdood betyds te help

Foto: Skermgreep

Ettiene van Heerden het as bekommerde ouer en geskokte lid van die gemeenskap ’n video gemaak na die dood van die twee graad 11-leerlinge aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl.

Jade Gouws (17) en Zara Malherbe (17) het binne 48 uur van mekaar beide hul lewens geneem en die gemeenskap is steeds in skok.

“Ek dra dus hierdie video op aan Zara en aan Jade in die hoop dat ons as gemeenskap beter toegerus sal wees om potensiële slagoffers van selfdood betyds te help,” sê Van Heerden.

Wat kan jy doen?

“Die vraag wat jy miskien kan vra is: Wat kan jy doen? Hoe kan jy ’n vroegtydige waarneming maak en hoe help jy iemand wat selfmoordneigings het?

“Jy mag dalk bekommerd wees oor die impak wat jy op die persoon mag hê. Gaan jou poging dalk die persoon tot selfmoord dryf? Onthou net, as jy oor iemand bekommerd is, moenie in stilte daaroor stres nie. Kry hulp, daar is hulp beskikbaar. Praat met enigiemand wat jy vertrou. Dit sal jou begrip van die situasie verbreed, wat jou in ’n baie beter posisie sal plaas om die persoon wat in die moeilikheid is, te ondersteun.

“Wees bedag op die mites en die miskonsepsies wat gepaard gaan met ’n selfmoordsituasie. Die rede hiervoor is dat dit so ’n moeilike ding is om te verstaan of oor te praat. Ek wil graag hierdie miskonsepsies met jou deel omdat hulle gevaarlik kan wees.”

Mense wat oor selfdood praat, soek net aandag

“Moet nooit so dink nie. Wanneer mense gereeld dinge sê soos ‘my lewe is nie die moeite werd nie, ek wens ek kan net doodgaan, ek is net in almal se pad’, moet nooit hierdie tipe stellings as niks afmaak nie. Mense wat hierdie tipe stellings maak, roep uit na hulp. Ongeag of hulle iets beplan of nie, hulle roep om hulp. Gebruik die geleentheid om hulle te vra oor hulle gevoelens en oor wat hulle regtig pla.”

Moenie praat oor selfdood nie, netnou gee jy iemand idees

“Selfmoord is ’n moeilike ding om oor te praat. Wanneer iemand na aan jou dinge begin sê wat in daardie rigting neig, moet jy nie voel dat om daaroor te praat, hulle oor die lyn gaan stoot nie. As jy met hulle daaroor praat, kan jy ’n groot verligting bring by die persoon. Gee vir hulle die geleentheid om uiting te gee. Wees jy vir hulle die oor wat hulle in daardie situasie mag nodig hê.”

As iemand ernstig is daaroor, kan ek niks daaromtrent doen nie

“Dis verstaanbaar om dalk te voel asof jy niks kan doen nie. Veral wanneer die ander persoon se gevoelens in ’n totale warboel is. Onthou net, emosies is tydelik. Selfmoordgevoelens hou net ’n rukkie, dan gaan dit verby. Jy kan daar wees vir daardie persoon gedurende daardie tyd.”

Luister hier na die res van Van Heerden se boodskap.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *