February 26, 2021

Skoolgemeenskap in rou ná twee leerlinge kort na mekaar sterf

PAARL – Die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl is in rou ná die dood van twee van die graad 11-leerlinge minder as 48 uur uitmekaar.

Die skool het Donderdagoggend die nuus van Jade Gouws (17) se dood op hulle Facebook-blad bekendgemaak.

“Jade was ‘n voorbeeld vir haar maats, ‘n steunpilaar in die koor en in die musiekproduksie,” lui die Facebook-plasing. “Ons eer haar nagedagtenis en onthou haar vir haar visie: ‘Vir my gaan dit nie oor ‘n titel nie, maar oor dit wat jy in ander kan uitbring. Blom waar jy geplant word.'”

Uit die medelye wat sedert dié nuus ingestroom het, is dit duidelik dat Gouws ‘n baie gewilde leerling by dié skool was.

Gouws het vermoedelik haar eie lewe geneem.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, sê haar liggaam is by haar huis gevind. Die polisie ondersoek tans die saak.

Die skool het Saterdagoggend Zara Malherbe se dood op hulle Facebook-blad bekendgemaak.

“Ons innige simpatie gaan aan die ouers, suster, familie, vriende en mede-Larries van Zara Malherbe. Met vertroue dat almal vertroosting sal vind in hulle mooi herinneringe van haar,” skryf die skool.

Sers. Rwexana sê die polisie is na ‘n hospitaal ontbied waar hulle Malherbe gevind het. Die saak word ook ondersoek.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: