KIMBERLEY – ’n Miniatuur-worshondjie is hier dood nadat sy bosluiskoors opgedoen het. Haar eienaar vertel sy het 15 dae terug in ’n nuwe woonstel in Herlear, Kimberley, ingetrek.
“Ek en my drie kinders was baie opgewonde om in die nuwe woonstel in te trek. Min wetende dat dié nuwe hoofstuk in ’n nagmerrie sou ontaard.”
Die inwoner vertel sy het met die besoek aan die eiendom geen onraad vermoed nie. “Ek weet die woonstel het ’n geruime tyd oop gestaan. Met my besoek aan die woonstel het ek nie bosluise opgemerk nie, want dit is nie juis iets waarvoor mens kyk nie.”
Ongeveer ’n week nadat die gesin ingetrek het, het sy die bosluise opgemerk. Dit het aan haar hond vasgesit. “Ek het dadelik my hondjie daarvoor behandel en het gedink sy kon dit enige plek opgedoen het. Maar lyk my dit was reeds te laat. My hondjie het net nie beter geword nie en ek het haar veearts toe geneem.”
Terwyl haar hondjie by die veearts agtergebly het, het sy by haar huis opgemerk daar sit bosluise aan haar meubels, asook haar kinders, vas. “My kinders het bytplekke op hulle lywe gehad. Ek was histeries van kommer dat hulle ook kan siek raak.”
Sy het die eienaar, asook die verhuringsmaatskappy laat weet dat sy ander blyplek soek. Sy is laat weet sy moet die sleutel by hulle aflaai, maar dat hulle nie haar deposito sal teruggee as hulle nie voor 20 November ’n ander huurder kry nie.
“Ek kon nie verder daar woon nie. Ek het ook self probeer gif spuit, maar die bosluise het tussen die krake van die sement uitgepeul. Hulle het vermeerder. Dit was so grillerig!”
Sy sê die eienaar van die woonstel, asook die verhuringsmaatskappy het haar daarvan beskuldig dat sy self die bosluise daar aangebring het. “Dis onmoonlik. Hoe bring mens bosluise ‘aan’ by ’n plek as die goed tussen die sement uitpeul? Ek kan verstaan as mens een bosluis op jou hond kry, maar dit lyk soos honderde!”
Sy gaan haar nou na die behuisingstribunaal wend. “Ek voel die maatskappy het my nie van die gesondheidsrisiko ingelig nie. My hond is ook dood en die situasie is baie ongevoelig hanteer. Ons hondjie was soos nog ’n kind en was my kinders se hele lewe.”
Die verhuringsmaatskappy het aan FiND iT gesê hulle wil glad nie hulle naam genoem hê óf kommentaar lewer nie. Hulle wil ook nie hê FiND iT mag die adres van die eiendom publiseer nie.
FiND iT is in besit van die kommunikasie tussen die verhuurders en die huurder, asook die adres van die eiendom.
Goedezicht Eiendomme CC, die verhuringsmaatskappy, wou geen kommentaar lewer nie.







