KAAPSTAD – ’n Groot herrie het op sosiale media uitgebreek toe leerlinge van Hoërskool Brackenfell in Kaapstad hulle eie ‘matriekafskeid’ gehou het en ‘net wit leerlinge uitgenooi is’.
’n Video van die geleentheid is aanvanklik op sosiale media geplaas, maar is intussen só gestel dat dit nie vir enigiemand sigbaar is nie.
In die video sien mens hoe matrikulante by ’n lokaal aankom waar ’n rooi tapyt vir hulle uitgerol is. Die matrikulante word in deftige motors daar afgelaai.
Sommige sosialemedia-gebruikers was kwaad oor daar net wit matrikulante by dié geleentheid was en omdat die anderskleurige leerlinge nie genooi is nie.
Jannie Muller, die skoolhoof, het egter gesê die geleentheid was glad nie deur die skool gereël nie. Hy het gesê dit was ’n privaat geleentheid wat nie eers op die skoolgrond gehou is nie.
Volgens Muller is daar 250 matrikulante by die skool en het niks meer nie as 30 die geselligheid bygewoon. Hyself is ook nie na die geleentheid genooi nie.
Bronagh Hammond, woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê inligting wat oor die onthaal versprei word, is nie waar nie. “Die skool het weens die Covid-19-pandemie nie ’n matriekafskeid gehad nie. Dit word as ’n saak tussen die matrieks se ouers en hulle skool beskou.”



