KIMBERLEY. – Die Emirates Lions het die rugby-span van Tafel Lager Griekwaland-Wes gisteraand op Emirates Park maklik met 61-31 in hul Vodacom Superrugby Unlock kragmeting geklop.
Die tuisspan het die eerste helfte oorheers en rustyd gerieflik met 28-3 voorgeloop. Die Leeus het met oorvloed balbesit behoorlik baljaar met hul agterlyn wat Griekwas met sterk lopies onder druk geplaas het.
Na rustyd het die tuisspan hul voorsprong tot 35-3 vergroot. Die besoekers het egter nie gaan lê nie en hul eerste drie gaan druk met die woelige skrumskakel Zak Burger wat afgerond het.
Beide spanne het die bal rondgegooi en was bereid om aanvalle te loods. Elton Jantjies het sy agterlyn deurgaans goeie besit gegee en veral Courtnal Skosan het met sterk lopies na vore gekom Hy het drie skitterdrieë gedruk en sy dekverdediging was goud werd vir die span.
Hy is goed ondersteun deur Wandisele Simelane wat selfs met ‘n drie beloon is. Alle eer aan Griekwas wat in die tweede helfte beter vertoon het en vier drieë gedruk om met ‘n bonuspunt uit die drieëfeeswedstryd te kom.
PUNTEMAKERS:
Lions 61(28) Drieë: Courtnal Skosan (3), Dan Kriel, Stean Pienaar, Wandisele Simelane, M.J.Pelser, Jaco Visagie, en Reinhardt Nothnagel. Doelskoppe: Elton Jantjies (9).
Griekwas 31 (3) Drieë: Zak Burger, James Verity-Amm, Thinus de Beer, Hendrik Luus. Doelskoppe: George Whitehead (4); Strafdoel: Whitehead.



