MPUMALANGA. – Sydwell Joseph Malatjie (44) is in die Mpumalanga-hooggeregshof tot vier keer lewenslange tronkstraf en 50 jaar effektiewe tronkstraf vir verskeie aanklagte van verkragting, gevonnis.
Met ’n mes gedreig
Malatjie het op al die aanklagte skuldig gepleit. Monica Nuyswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in Mpumalanga, sê Malatjie het tereggestaan op nege aanklagte van verkragting.
Malatjie het tussen Desember 2012 en Junie 2018 slagoffers na hulle huise gevolg en laatnag of in die oggendure by hulle huise ingebreek. Volgens Nuyswa het hy sy slagoffers met ’n mes gedreig waarna hy hulle verkrag het. Party slagoffers is talle kere verkrag en een vrou is ten aanskoue van haar dogter (7) verkrag.
Na ‘n bos gesleep en verkrag
Malatjie het in Junie 2018 ‘n minderjarige meisie (11) op straat teëgekom. Hy het haar gewurg, na ‘n bos gesleep en haar verkrag. Hy is deur lede van die gemeenskap betrap en die polisie is ontbied.
Regter Anna Kgoele sê Malatjie het nie skuld beken omdat hy berou het nie, maar weens die waterdigte saak wat die staat teen hom gehad het.



