Khabib Nurmagomedov (32), ‘n Russiese gevegkunstenaar, het sy loopbaan Saterdag na hy ‘n stryd teen Justin Gaethje gewen het, beëindig en sy bokshandskoene in die middel van die kryt gelos as deel van ‘n belofte aan sy ma.
Nurmagomedov het Gaethje, ‘n Amerikaanse gevegkunstenaar, vir ‘n oomblik sterretjies laat sien toe hy hom in ‘n wurggreep vasgevang het.
Dit was die 29ste keer dat Nurmagomedov ‘n geveg gewen het.
Nurmagomedov se pa het hom van ‘n jong ouderdom af in dié sport opgelei en het hom altyd by gevegte ondersteun. Hy is egter in Julie op die ouderdom van 57 aan Covid-19 oorlede en kon dus nie by sy laaste geveg wees nie.
“Ek het drie dae terug met my ma gepraat,” het ‘n emosionele Nurmagomedov na die geveg Saterdag gesê. “Sy wou nie hê dat ek sonder my pa moes kom veg nie, maar ek het haar belowe dit sal my laaste geveg wees. Hierdie was my laaste geveg.”



