Ten spyte van hierdie jaar se uitdagings het Hoërskool Adamantia se
Mnr. & Mej. Addie-finaliste besluit om steeds hul gemeenskapsprojekte te voltooi en ‘n verskil in die gemeenskap te maak.
Tanya Jordaan, ‘n onderwyseres by Adamantia, het Vrydag, tydens die aankondiging van die nuwe Mnr. & Mej. Addie-wenners, vir Sharné Koopman, Christelle de Villiers, Christine van den Heever, Francois Conradie en Gideon van der Merwe gesê hoe trots sy op elkeen van hulle is. “Hul gemeenskapsprojekte kom werklik uit die hart uit en hulle gaan nog ‘n groot verskil in baie mense rondom hul se lewens maak.
“Die hoofbeoordelaar, wat nie net ‘n maatskaplike werker is nie, maar ook ‘n oud-Addie-ouer, was vreeslik beïndruk met elkeen van ons vyf matriekfinaliste.
“Oor die Mnr. Addie-wenner skryf sy die volgende: “Jy het jouself ingeleef in jou projek en eienaarskap daarvan geneem. Jy het vir my, wat jou glad nie ken nie, gewys wie jy werklik is. Na jou onderhoud en die bestudering van jou lêer kon ek sien dat jou hart mooi is. Hou aan lag en bly wie jy is. Jou persoonlikheid is aansteeklik.”
“Ons nuwe Mnr. Addie vir 2020 is niemand anders nie as Francois Conradie.
“Francois se een projek was die bewusmaking van die bedreiging van aasvoëls, maar a.g.v Covid-19 kon hy nie aangaan met sy projek nie en het hy toe baie betrokke geraak by borskankerpasiënte.
“Oor die Mej. Addie-wenner skryf sy die volgende: “‘n Belangrike aspek van betrokkenheid in die gemeenskap is die beskikbaarstelling van jou tyd. Jy het meer as een maal jou projek besoek en ek is van mening dat jy werklik alles in jou vermoë gedoen het om ‘n verskil in hierdie klein mensies se lewens te maak. Bly die hulpvaardige mens wat jy is. Bly glo in jouself en die verskil wat jy in ander se lewens nog gaan maak.”
“Ons nuwe Mej. Addie vir 2020 is dan Christelle de Villiers.
“Christelle was by drie projekte betrokke. Haar hoofprojek was by Destiny-kinderhuis. Christelle het ongelooflik baie kontant en produkte soos kos, klere en speelgoed ingesamel en oorhandig. Sy het ook tyd met die kinders deurgebring. Sy het ‘n Facebook-blad, Divvies Different, gestig waardeur sy mense vir hulp gevra het en dan ook terugvoer oor haar projek gegee het.
“Baie geluk Francois en Christelle.”



