KIMBERLEY. – Inligting rondom twee verdagtes wat glo hier binne twee weke meer as R100 000 se goedere gesteel het, word benodig om dié verdagtes vas te trek.
Wickus Coetzee, eienaar van Scorp Security, sê twee verdagtes het twee weke gelede op ‘n Donderdag by ’n gastehuis in Royldene ingebreek. “Hulle het vyf televisies en ’n kroegyskas gesteel.”
Coetzee sê hy het op Facebook gesien ’n ander inwoner, Quincy Monchusie, bied ’n beloning van R30 000 aan vir twee verdagtes wat by sy huis in Nooitgedachtstraat ingebreek het.
“Ek het hom gekontak, want ek het twee en twee bymekaar gesit. Dit lyk soos dieselfde verdagtes wat ook by sy huis ingebreek het.” Daar het die verdagtes ’n televisie, rekenaarskerm en Whiskey-versamelstuk gesteel.
Die verdagtes is beide kere op kamera vasgevang. Die inbrake het almal tussen 12:00 en 02:00 plaasgevind.
Coetzee sê dit lyk of die verdagtes moontlik na Belgravia oorbeweeg en sê sy wagte is op high alert.
“Die verdagtes is herken na ‘n poging om in te breek Sondagaand. Hulle het maskers, handskoene en rugsakke by hulle gehad. Ons vermoed hulle het ander klere in hulle rugsakke wat hulle aantrek as hulle klaar ingebreek het,” sê Coetzee.
As jy enige inligting het, kan Coetzee by 084 593 2681 gekontak word.







