‘Dis nie net ons lewens wat daardeur beïnvloed word nie’

Deel hierdie storie / Share this story

“Wat vir my die ergste is, is dat dit nie net ons rugbyspelers se lewens is wat hierdeur beïnvloed word nie. Daar is personeellede en hulle gesinne wat ook geraak word. Selfs die man wat in my tuin werk én sy gesin word beïnvloed omdat hulle nie meer ’n salaris ontvang nie,” sê Bobby de Wee, een van die rugbyspelers van die Southern Kings, wat onlangs gelikwideer is.

De Wee sê dit was ’n bitter pil om te sluk, vir almal van hulle. “Ek het begin rugby speel toe ek omtrent ses jaar oud was. Ek het op 16 uit die huis getrek en in Pretoria gaan woon om op my rugbyloopbaan te fokus. Ek het soveel planne gehad. Nou is dit asof ek van voor af moet begin,” vertel De Wee.

De Wee het as o/17-speler vir die Blou Bulle begin speel en het op die ouderdom van 23 by die Kings begin speel.

Sy ouers, wat in Klerksdorp woon, ondersteun hom gelukkig al van die begin af. “Ek onthou my pa het al my rugbywedstryde bygewoon. My ouers is nog altyd vir my ’n groot steunpilaar. Al is my toekoms vir hulle nou ook onseker, hou hulle aan om my te herinner dat daar ’n lig aan die einde van die tonnel is. Selfs toe ek na skool ’n beurs gekry het om te gaan studeer en ek gekies het om eerder rugby te speel, het hulle my ondersteun. Ek het altyd redeneer dat ek altyd later kon gaan studeer as later gaan rugby speel.”

“Dis juis daarom veral sleg omdat Covid-19 die mark so beïnvloed het. Soveel van die baie jong ouens wat saam met my gespeel het, gaan nou sukkel om weer ’n unie te kry om voor te speel.”

De Wee sê hy het volle vertroue in sy agent. Behalwe vir sy deel in die Care 4 Kings-projek, beplan De Wee om hopelik binnekort weer rugby te speel. “Ek mis die veld, maar dis nou net vir vasbyt, lus lyk en hard werk.”

Alle rugbygeesdriftiges kan onder andere op die Springbok-rugbybaadjie van Braam van Straaten, die Sharks-trui van AJ Venter en die Wêreldbeker-rugbytrui van Mzwandile Wanky Stick bie.

Gaan na www.care4kings.co.za om te registreer.

Volg hul Facebook-blad Care4Kings of hul Instagram-blad @care4kings.

Hier is die bankbesonderhede vir Care 4 Kings om hierdie inisiatief te ondersteun. Hierdie rekening word deur Opus Accounting geadministreer.

Care 4 Kings

FNB Tjek Rekening 62870068650

Takkode 231002

Stuur bewys van betaling aan: [email protected]

Verwysing: CARE4KINGS + JOU NAAM