Hier is jou kans om ’n anonieme vraag oor jou verhouding te vra. Stuur jou anonieme vraag na [email protected].
Anonieme lesersvraag:
Ek is in ’n verhouding met ’n man wat nie regtig wil werk nie. Hy is ’n wonderlike mens en die seks is absoluut aardskuddend. Ons is al ’n jaar saam. My probleem is dat ek uit ’n huwelik kom, ek is nou al twee jaar geskei, waar die man ongelooflik hardwerkend was en grade so lank soos jou arm het. Die seks was egter flou. Hy het my na 20 jaar van getroude lewe verneuk. My probleem is ek soek iemand wat finansieel stabiel is sowel as goeie seks. Ek is in ’n tweestryd want die “perfekte” man het my verneuk so nou het ek liewer ’n verhouding met iemand wat nie perfek is nie. Ek is bang om hierdie ou te verloor, maar ek as vrou wil ook hê iemand met wie ek ’n verhouding het moet finansieel sterker wees as ek. Ek is wel finansieel onafhanklik, werk, besit my eie blyplek en het geen skuld nie. Moet ek my vlerke sprei of bly?
Antwoord:
Anoniem, jy sal hierdie gesprek met hom moet hê. Sê vir hom hy sal moet werk kry of sy ry kry. ’n Verhouding kan nie net bestaan uit goeie seks nie, maar moet ook uit vertroue, liefde, samewerking en wedersydse respek bestaan. Mens kan altyd aan jou sekslewe werk indien jy sou voel dit is flou. In vandag se lewe speel finansies ’n baie groot rol en altwee sal hulle kant moet bring.



