Drie kinders uit haglike omstandighede gered

Deel hierdie storie / Share this story

VENTERSPOS. – Drie minderjarige kinders van onderskeidelik sewe, nege en elf jaar oud is Donderdag 8 Oktober 2020 deur Pixie Pink- Victim Advocate van hul ouerhuis weggeneem nadat klagtes van ernstige verwaarlosing ontvang is.

Pixie Pink het aan FiND iT gesê die kinders het dringend onmiddellike ingryping nodig gehad. “Die kinders het vrot kos met maaiers geëet, het ’n geruime tyd nie gebad nie, het luise en vlooie in hul hare en op hul beddens gehad, het skaars beddegoed gehad en is baie verwaarloos. Die ma het ook al hul meubels en yskas verkoop. Die kinders het die kos in die kombuiskaste gebêre en wanneer hulle honger was, het hulle die maaierbesmette kos geëet. Hulle kan nie lees of skryf nie en het al ’n geruime tyd nie skoolgegaan nie. Die 7-jarige het nog nooit skoolgegaan nie en nie eers die 18-jarige kan lees of skryf nie.”

“Na ondersoek is die polisie ingeroep en die drie minderjariges sowel as hul 18-jarige broer, wat positief vir Meth sowel as dagga getoets het, is na die FCS-eenheid verwyder. Die twee meisies is na die distriksgeneesheer geneem om vas te stel of hulle gemolesteer is, maar die toets was negatief.”

Die polisie het die 18-jarige vrygelaat en die saak is aan die welsyn oorhandig. “Dit is nie net armoede nie. Die ma van die kinders het nie ’n skoon dwelmtoets gehad nie. Dit was een van die aakligste gevalle. Die ma het nie eers die huis probeer skoonmaak nie en die honde het meer kos as die kinders gehad. Die ma het ook glo elke drie weke ’n nuwe kêrel gehad.”

“Die drie minderjariges het nie gehuil toe hulle verwyder is nie en opgewondenheid in die polisievoertuig geklim. Dit was hartverskeurend om te sien.”