Ontmoet die Mnr. & Mej. Addie-finaliste vir 2020

Deel hierdie storie / Share this story

Die Meneer en Mejuffrou Adamantia-finaliste kon weens Covid-19-regulasies nie vanjaar hul gesamentlike gemeenskapsprojek behartig nie, hulle kon nie saam gaan kamp nie en kon ook nie ’n kroningsfunksie aanbied nie.

Tanya Jordaan, woordvoerder vir Hoërskool Adamantia, sê daar is besluit dat slegs die matriekleerders sal voortgaan met hul projekte. Meneer Thomas en juffrou Jordaan, koördineerders van Mnr. & Mej. Addie, het met Francois Conradie, Gideon van der Merwe, Christelle de Villiers, Sharné Koopman en Christine van den Heever gepraat en hulle het besluit dat hul graag steeds sal wil voortgaan met hul projekte, aangesien hulle reeds so baie ander goed die jaar uitmis. Die finaliste in ander grade se projekte skuif dan net so aan na volgende jaar. “Ons glo en vertrou dat alles volgende jaar so klein bietjie nader aan ‘normaal’ sal wees,” sê Jordaan.

Daar is besluit dat net een Mej. Addie-Liefdadigheid en een Mnr. Addie-Liefdadigheid uit die matrieks van 2020 gekroon sal word. Die finaliste word ook net beoordeel op grond van hul gemeenskapsprojekte en die verskil wat hulle in die gemeenskap gemaak het. Daar word ongelukkig nie ’n eerste en tweede prins en prinses, fotogenies- en persoonlikheid-wenner, soos in die verlede, aangewys nie. Die wenners sal voor die Oktober-vakansie aangekondig word.

“Ons wil egter steeds ons vyf matriekfinaliste aan u bekendstel. Die dogters is Sharné Koopman, Christelle de Villiers en Christine van den Heever. Die seuns is Gideon van der Merwe en Francois Conradie,” lui ’n inskrywing op Facebook.

Wie is jy? As jy vir iemand kortliks moet sê wie jy is, wat sal jy sê?

“Ek het ’n baie goeie hart en ek is iemand wat baie vining vriende maak,” sê Francois Conradie.

“Ek is ’n baie energieke mens wat hou van die buitelewe. My familie en vriende is vir my baie belangrik. Ek sal baie vir hulle doen,” sê Gideon van der Merwe.

“Ek sien myself as ’n baie sagte persoon. Een van my sterkpunte is dat ek baie hulpvaardig is. Ek sal altyd probeer om uit my pad uit te gaan om iemand anders te help. ’n Swakpunt van my is dat ek sukkel om vir mense “nee” te sê en dit veroorsaak partykeer dat mense my misbruik. In my vrye tyd spandeer ek graag tyd saam met my familie of ek vang vis. Dit is een van my gunstelingaktiwiteite. As ek ’n baie slegte dag gehad het, sal ek musiek aansit en begin dans. Ek voel altyd beter daarna. My pa is my hero en my steunpilaar. Hy sal my altyd op die regte pad probeer hou, trane afdroog en skel waar dit nodig is. My ma is weer iemand wat my vining op my plek sal sit, maar ook baie vir my omgee,” sê Christelle de Villiers.

“Ek is baie vriendelik en ek hou van kinders. Ek is nie ’n oggendmens nie, maar ek is beslis ’n mense-mens. Ek hou van baie mense rondom my,” sê Sharné Koopman.

“Ek is ’n baie aktiewe meisie wat hou van sport, veral hokkie. Op die hokkieveld gaan jy sien wie ek werklik is. Ek werk baie goed in ’n span. Ek is liefdevol en ek hou baie van praat en vriende maak, selfs al is kommunikasie soms een van my swakpunte. Ek is akademies sterk. Ek hou van leer en wil werk vir ’n toekoms vir myself,” sê Christine van den Heever.