Liefde vir rugby laat Suid-Afrika saamstaan

Deel hierdie storie / Share this story

“Om nou as volwasse man vir my ouers te vra vir geld om vir dinge te kan betaal, is vir my die ergste. Veral omdat rugby vandat ek 14 is my skoolfonds betaal het,” sê die 22-jarige Luyolo Dapula na hy op 19 September die nuus ontvang het dat hy, saam met 35 ander rugbyspelers van die Southern Kings, nie meer ’n maandelikse salaris sal ontvang nie.

Dapula, wat by Queens College skoolgegaan het, sê die Southern Kings-spelers het aanvanklik gehoor dat hulle nie meer aan ’n toernooi sou deelneem nie, juis sodat hulle tot Desembermaand nog salarisse kon ontvang. “Drie weke later is ons en 16 personeellede bymekaargeroep vir ’n vergadering. Dis toe dat hulle vir ons gesê het dat daar nie meer geld is nie en dat ons nie meer vir hulle gaan rugby speel nie.”

Liefde vir rugby

Dapula het in Desember verlede jaar vir die Kings begin speel. Hy het sy professionele rugbyloopbaan in 2017 begin.

“Ek het nog altyd ’n liefde vir rugby gehad. Ek het so daarna uitgesien om naam te maak. Ons almal het. En toe gebeur dit…

“Ek moes die laaste bietjie geld wat ek gehad het, gebruik om petrol in my kar te gooi en huis toe te kom. Ek het nou geen ander keuse as om weer by my ouers hier in Queenstown te bly nie.”

Dapula sê sy ouers is nou sy grootste ondersteuningsnetwerk. “Wat vir my die ergste is, is dat ek nou as volwasse man vir my ouers moet vra vir geld,” sê hy.

Dapula beplan nou om te gaan studeer. “As ek nie by ’n ander span plek kry nie, gaan ek maar ekonomie studeer. Ek weet ook nog nie waar ek die geld daarvoor gaan kry nie.”

Care 4 Kings – ondersteun die spelers van môre

Care 4 Kings is gestig en Braam van Straaten, voormalige afrigter van die Kings-rugbyspan, doen ’n beroep op alle professionele sportlui om items te skenk vir ’n aanlynveiling wat op 16 en 17 Oktober sal plaasvind. “Dit is wonderlik om te sien dat ouens soos AJ Venter video’s doen oor wat hy kan gee. Jy kan dit nou aanlyn koop. Dis ’n geleentheid wat nie voorheen beskikbaar was nie en die bonus is, so help jy die toekoms van môre. Jy help ouens wat groot drome het. Groot harte en passie vir rugby.”

Van Straaten, voormalige Springbok-rugbyspeler, skenk ook sy eie Springbok-baadjie, wat Vrydag en Saterdag op die veiling beskikbaar gaan wees.

Registreer nou vir die aanlynveiling by www.care4kings.co.za.