LICHTENBURG. – Godsdiens- en gemeenskapsleiers het vanoggend hier bymekaargekom om die pad vorentoe na afloop van die week se gebeure op Senekal te bespreek.
Horner-moordsaak
Toesprake gaan deur leiers oor menseregte, die moord op Brendin Horner (21) en wat die gemeenskap vorentoe te doen staan, gehou word. Altesaam 12 sprekers sal aan die woord wees. Die doel van die byeenkoms is om die belangrikheid dat die boere en die gemeenskap saamstaan teen misdaad, aan te spreek. Die Horner-moordsaak en Andre Pienaar se inhegtenisneming sal ook bespreek word.
Deelgeneem aan ’n optog
Party van die toesprake gaan spesifiek handel oor die twee verdagtes wat op 16 Oktober 2020 weer gaan verskyn vir die moord op Horner. Met die verdagtes se eerste verskyning op 6 Oktober in die Senekal-landdroshof het verskeie mense deelgeneem aan ’n optog.
Aanklag van terrorisme
Na afloop van die optog is Andre Pienaar in hegtenis geneem. Hy het gister in die hof verskyn en staan op aanklag van terrorisme, poging tot moord, aanhitsing van geweld en openbare geweldpleging tereg. Andre het gister sy eerste verskyning in die hof gemaak en sal weer 13 Oktober in die landdroshof verskyn. Hy is steeds in aanhouding.



