“Vir twee weke het ek leweloos gelê, ek het nie uit my bed geklim nie en het skaars beweeg.”
Andell Loubser (23) en die hele Kings-span het gehoor hulle gaan nie meer ’n maandelikse betaling ry nie. Loubser sê vir twee weke na die skokkende nuus het hy nie die moed gehad om eers sy voete uit die bed te tel nie.
’n Sportbeurs ontvang
Andell se rugby liefde het al op skool begin. Nie net was hy lief vir rugby nie, maar hy het ook uitgeblink in dié sport. Hy het skoolgegaan in Hopefield in die Wes-Kaap tot hy ’n sportbeurs ontvang het en was na Drosdy Hoërskool in Worcester geskuif. Daarna het nog ’n sportbeurs organisasie sy talent raakgesien en hy is na Menlopark Hoërskool in Pretoria geskuif, waar hy sy skoolloopbaan voltooi het.
Wat hy na skool wou doen was geen vraag waaroor hy geworstel het nie. Rugby was altyd die antwoord op enige vraag. Na skool het Loubser vir Tukkies en SA skole gespeel. Net voordat hy ’n kontrak met die Kings geteken het, het hy vir die Junior Bulle gespeel.

’n Dubbele hartseer
In Junie 2020 het hy ’n drie jaar kontrak met die Kings geteken. Na sowat ’n jaar van rugby speel vir dié span het sy droom vinnig tot ’n einde gekom. Die Kings is ingeroep en die nuus is aan hulle gebreek: “Julle gaan ongelukkig nie meer betaal word nie.”
Andell het immers ’n dubbele hartseer ervaar. “Ek het ook persoonlike probleme in daardie tyd ervaar. Dit was ’n emosionele tyd vir my. Ek is seker die ander spanlede kan ook daarvan getuig.”
Donker twee weke
“Na die donker twee weke moes ek my ingesteldheid verander en begin positief dink.” Hy sê hy oefen nou weer daagliks. Hy staan soggens op en volg ’n oefenprogram om nie sy fiksheid agter uit te laat gaan nie.
“Ek hou aan met oefen, want ek glo daar is ’n groter doel en prentjie.”
Ondersteuningstelsel
Almal het ’n ondersteuningstelsel nodig wanneer die goue randjie om die donker wolk nie tevore wil kom nie. Gelukkig vir Andell het hy ouers wat hom elke dag ondersteun en motiveer om die mooi in die lewe raak te sien. “Hulle sorg dat ek al my voedingsware inkry wanneer ek aan ’n streng oefenprogram deelneem.”
Hy lag skamerig wanneer hy sê sy ouers bederf hom en berei selfs sy shakes voor.
Voorbeeld van dryfkrag
Andell is ’n voorbeeld van dryfkrag en sê hy wil graag in die tyd begin leer. Hy kyk daarna om onderwys te begin studeer. In dieselfde asem sê hy rugby sal altyd sy grootste passie in die lewe bly.
Hoe kan jy help?
- Sluit aan by die Care4Kings-bladsy op Facebook waar inligting oor die veiling gedeel sal word
- Ondersteun die aanlynveiling op 16 en 17 Oktober
- Kry jou vriend op Vrydag, 16 Oktober vir ‘n kroegete en bie op fantastiese items
- Stuur ‘n donasie aan Care 4 Kings – stuur ‘n e-pos aan Van Straaten by [email protected] vir bankbesonderhede.
- Bied ondersteuning vir môre se sportsterre deur hierdie inisiatief op jou sosiale media-rekeninge met die hutsmerk #care4kings te plaas



