‘Sy het gesê dinge raak vir haar te veel’

Deel hierdie storie / Share this story

BLOEMFONTEIN – “Die ergste vir my is ons een en ‘n half jarige dogtertjie wat vir haar mamma roep en mamma kom nie,” sê Wikus du Plessis, inwoner van Bloemfontein, van sy vrou wat Dinsdag spoorloos verdwyn het.

“Toe ek laaste met Arista gepraat het, was sy in ‘n toestand. Sy het gesê dinge raak vir haar te veel en sy’s keelvol. Ek hoop maar dat daar ‘n geldige rede is vir haar verdwyning en dat ons daaroor sal kan praat wanneer sy weer huis toe kom,” sê Wikus.

Arista du Plessis, eienaar van Bloemvillas Rental Management, is sedert Dinsdagoggend om ongeveer 09:30 vermis.

“Toe ek haar net na 08:00 Dinsdagoggend bel om te hoor of sy ons seun betyds by die skool gekry het, kon ek hoor iets is nie lekker nie. Sy het die oggend ‘n bietjie met hom gesukkel. Ek het toe vir haar gesê sy moet ontspan en diep asemhaal, en dat ons die aand ‘n bietjie sal chat.

“Toe ek haar later bel om te hoor of sy okay is, het sy vir my gesê sy sukkel ‘n bietjie, dat sy nie meer weet wat om te doen nie en dat sy keelvol is. Ek het vir haar gesê sy moet diep asemhaal en ontspan, sy kan nie haar kliente in so ‘n toestand sien nie.

“Toe ek haar later bel, het sy gesê sy is gou besig om kliënte te bel. Wat ek later sou besef, is dat sy besig was om haar afsprake te kanselleer.”

Wikus vertel hoe hy haar aanhou bel het, maar haar foon af gebly het. Toe hy die middag na vyf besluit om haar ouers te vra of hulle miskien weet waar sy is, het hulle ook gesê hulle weet nie waar Arista kan wees nie.

“Toe ek later kamer toe loop, het ek opgelet die kragprop wat gewoonlik in die muur is, is nie daar nie. Toe ek nader kyk, kon ek sien haar haardroër, grimeringsakkie, van haar klere én slaapklere is weg.

“Ek kon daardie aand niks slaap nie. Ek het haar die volgende oggend as vermis gaan aanmeld. My skoonma wou hê ek moet ‘n paar dae wag en kyk of Arista nie miskien terugkom nie, maar in vandag se tyd kan mens nie sulke kanse vat nie.”

Wikus vertel verder hoe hy intussen meegedeel is dat sy in ‘n vorige verhouding ook twee keer vir ‘n paar dae verdwyn het.

“Ons sal op 18 Desember vanjaar vyf jaar lank getroud wees. Sy het dit nog nooit in die tyd wat ons saam is, gedoen nie.

“Ek is woedend. Ek is teleurgesteld. Ek voel as sy vir my gesê het dinge raak vir haar te veel en sy het ‘n blaaskans nodig, dit okay sou wees. Maar om so sonder ‘n woord te verdwyn… Dis bitter sleg. Ek hoop maar daar is ‘n geldige rede vir haar verdwyning en dat sy miskien net haar kop wou skoonkry.”

As jy miskien weet waar Arista is of iets weet van haar verdwyning, skakel asseblief vir Wikus du Plessis by 079 024 4478.