“Dit was wonderlik om te sien hoe die Kimberley-mense so saamstaan om iemand te help. Ellen is buite haarself van blydskap oor die hulp.”
Ellen Fritz (58) moes byna weens finansiële omstandighede van haar beste vriend van sewe jaar afskeid neem, maar Kimberliete het vinnig saamgestaan en die nodige fondse ingesamel om dit te voorkom.
Fritz is blind gebore en is weens ‘n ongeluk in 1984 gedeeltelik doof. Sy moes haar gidshond onlangs opgee en Rusty, ‘n boerboel-teef, is vir die afgelope sewe jaar haar beste vriend.
Sunette Niemann, ‘n vriendin van Fritz, sê Rusty is nie ‘n opgeleide gidshond nie, maar maak steeds vir Fritz wakker wanneer sy nie haar gehoorapparate dra nie. Fritz het onlangs gehoor dat sy weens onvoorsiene omstandighede na Pringlebaai moes verhuis. Omdat Rusty nie ‘n opgeleide gidshond is nie, kon sy nie saam met haar eienaar van Johannesburg na Pringlebaai vlieg nie.
Dis toe Niemann dié nuus ontvang het, dat sy besluit het om te probeer geld insamel om Rusty ook in Pringlebaai te kry. “Ons het ‘n kwotasie gekry om uit te vind wat dit sou kos om vir Rusty na Pringlebaai te laat vlieg. Omdat Ellen net ‘n SASSA-pensioen kry, het ek geweet dat dit vir haar bykans onmoontlik sou wees om R4 300 bymekaar te kry.”
“Ons het binne ‘n dag die geld ingesamel. Ellen is buite haarself van blydskap. Sy en Rusty is só geheg aan mekaar, ek wil nie eers weet wat sou gebeur as hulle mekaar moes groet nie,” vertel Niemann.
Rusty het gister die nodige inspuitings en ontwurming gekry en het die groen lig gekry om vanaf 1 November te vlieg.
As enigiemand miskien ‘n bydrae wil lewer vir Fritz se vliegtuigkaartjie of trek, kontak vir Sunette by +27 72 686 5663.



