Kimberley se eie ysterman

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Kimberley se ysterman, Willie van den Berg, sê sy kans om vanjaar aan die Ysterman-kompetisie deel te neem, is deur die Covid-19-pandemie in die wiele gery.

Dié apteker by Robert Mangiliso Sobukwe-hospitaal sê hy het hard voorberei vir die nasionale kampioenskap wat in Maart sou plaasvind.

“My grootste aansporing was om te verbeter op verlede jaar se vertoning en aan myself te bewys dat ek verbeter het en sterker vertoon,” sê Van den Berg.

Hy sê sy voorbereiding was ‘n fisieke en geestelike uitdaging. Hy was in sy beste vorm ooit en het goed voorberei vir die kompetisie.

Kort voor die kompetisie is die landswye inperking egter aangekondig en alle kompetisies is uitgestel. Die naweek wat die kompetisie sou plaasvind, het die inperking begin en dit was ‘n groot teleurstelling vir hom.

Van den Berg voel ure se voorbereiding en al sy opoffering is verniet. Gelukkig was hy ingerig om tydens die inperking met sy oefening voort te gaan.

Die voormalige Griekwa-amateur rugbyspeler wat tot 2010 rugby gespeel het, het na sy uittrede begin fietsry. Dit was vir hom nie ’n voldoende uitdaging nie en hy het begin met padwedlope. Na sy deelname aan die Argus-wedren en Two Oceans-marathon het die Ysterman-gogga hom gebyt. Hy het besef dat die Ysterman kompetisie beslis sy fiksheid en uithouvermoë beproef.

Die swem was sy grootste uitdaging en in 2017 het hy aan sy eerste Ysterman-kompetisie (halwe ysterman) deelneem. “Ek het onmiddellik besef hierdie is my sport,” sê Van den Berg.

Die volgende jaar het hy by die Tissink-klub in Port Elizabeth aangesluit om aktief aan sport deel te neem.

Verlede jaar het hy aan sy eerste vol Ysterman-kompetisie deelgeneem en het in dieselfde jaar gekwalifiseer om in sy ouderdomsgroep aan die Ysterman-kompetisie 70.3-wêreldkampioenskappe in Nice, Frankryk deel te neem.

“Die Ysterman-kompetisie is beslis uitdagend, dit behels 3.8 km swem, 180 km fietsry en 42 km padwedloop. Die 70.3 Ysterman-kompetisie is 1.9 km swem, 90 km fietsry en 21.1 km padwedloop.” Van den Berg is sedert 2010 met Suzanne getroud en hulle is die trotse ouers van ’n 6-jarige drieling, Milan, Wian en Micke, wat die egpaar voltyds op hul tone hou.