Span vir nasionale netballiga

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Die Noord-Kaap Diamonds het ‘n jong, onervare span gekies om aan die nasionale netballiga in Bloemfontein deel te neem.

Die toernooi sou aanvanklik in Mei plaasvind, maar is weens die Covid-19-pandemie en landswye inperkinge uitgestel. Elsje van der Merwe, president van die Noord-Kaap, sê ag van die span se mees ervare spelers is weens werk en ander verpligtinge nie beskikbaar nie.

“Ons moes ’n aantal belowende jonger spelers vir die span kies en het ‘n paar leenspelers uit die Vrystaat gekry,” sê van der Merwe.

Twaalf spanne sal vanaf 14 tot 27 Oktober by die Mangaung-binnehuis kompleks aan die toernooi deelneem. Die deelnemers moet reeds Donderdag in die Rosestad aanmeld. Daar sal van ‘n bio-borrel gebruik gemaak word en almal wat by die toernooi betrokke is sal vanaf hul aankoms tot die venue en hotel beperk wees. Almal sal ook aan die gesondheidsprotokol onderwerp wees en sal gereeld Covid-19 toetse ondergaan.

Die Noord-Kaap Diamonds groep is:

Clarissa Mpikwane (kapt), Betsie du Raan (o/kapt) , Roxanne Bonani, Arné Fourie, Stephanie Hanekom, Nthabiseng Hottie, Dané Klopper, Dineo Mahlomaholo, Eureka Mentoor, Sinazo Njokweni, Bianca Pienaar, Zandre Smit, Charissa Swanepoel, Monique van der Westhuizen, Karien Opperman (afrigter), Leoni Ross (hulpafrigter).