KIMBERLEY – Besigheidseienaars en inwoners is moedeloos oor rioolwater wat vir ’n geruime tyd al ’n groot probleem in dié gebied veroorsaak. So moedeloos dat hulle besluit het om humor te gebruik om met die probleem saam te leef. Inwoners het ’n banier met die woorde “Welkom in Strontstraat” aan een van die bome vasgespyker.
Reana Booysen, ’n inwoner en besigheidseienaar in die gebied, sê hulle is omtrent keelvol vir die toestand waaronder hulle van die huis af moet werk. Booysen is die eienaar van Hadassah Laserkliniek en sy sê omdat sy ’n skoonheidsalon bestuur, maak dit dinge nog moeiliker.
“Ons betaal besigheidsregte. Ek verloor besigheid. Elke liewe keer as die wind van die Gariep-hospitaal af waai, waai dit daardie aaklige reuk direk by my skoonheidsalon in. Die rioolwater loop ook oor die pad en dit veroorsaak dat die slaggate in die pad net groter word. My klante moet glads 4×4-voertuie gebruik om by my salon uit te kom!”
Booysen se seun, Marco Esterhuizen, verkoop vleis van die huis af en hy is net so keelvol vir die omstandighede waaronder hy klante moet ontvang.
Verder vertel Booysen hoe onhigiënies dit is omdat die rioolwater reg agter die Gariep-hospitaal loop. “Dit hou ’n groot gesondheidsrisiko in!”
Die probleem is glo vroeër vanjaar volledig op ’n nuusprogram bespreek, maar daar is steeds niks aan die probleem gedoen nie. ’n Sol Plaatje-munisipaliteitswoordvoerder het glo in die onderhoud belowe dat daar binne twee weke na die onderhoud iets omtrent die probleem gedoen sal word, sê Booysen.
FiND iT het by die Sol Plaatje-munisipaliteit navraag gedoen oor die probleem en wag nog vir terugvoer.






