KIMBERLEY. – Vir meeste inwoners van Kimberley is Dewald en Karen Moller sinoniem met die stad en kan ons amper nie Human Motors voorstel sonder jare se geslagte in die motorbedryf nie.
Karen, ’n Kimberliet in murg en been, het kort nadat sy aan Hoërskool Adamantia gematrikuleer het haar voete vinnig by Human Auto Kimberley gevind.
In 1996 het sy aangesluit by Human Auto waar sy haar toekoms begin het met motorverkope, finansiering en daarna kon sy haar pa se skoene vol staan.
Karen se pa, Willie Human, met 43 jaar diens, was handelaarshoof vir 18 jaar. Met Willie se aftrede is Karen die geleentheid gebied om oor te neem.
Karen was vir 24 jaar betrokke by Human Auto Kimberley, waarvan sy vir sewe jaar handelaarshoof was. Met haar kennis en beginsels kon sy waarde toevoeg vir beide kliënte en die besigheid.
Dewald, Karen se steunpilaar, eggenoot en pa van hulle twee mooi seuns Divan (17) en De Wet (13), was ook die verkoopsbestuurder van Human Auto. Dewald was vir 19 jaar werksaam by Human Auto. Dewald se passie vir mense, dit waarin hy glo en vanweë sy werksetiket, kan kliënte verseker wees dat hy nog steeds gehaltediens sal lewer.
Hulle kliënte kan hul gerus enige tyd op hul selfone skakel en vir seker weet dat hulle gehelp sal word. “Ons kliënte het ons hartsmense geword,” sê Dewald.
Die Mollers het diep spore in Kimberley getrap, maar die winde van verandering het vir die gesin aangebreek.
Die Mollers verhuis eersdaags na Robertson waar ’n nuwe era en geleentheid vir hulle begin. Karen is aangestel as handelaarshoof van Rola Ford Robertson. Die Rola-groep is ’n standvastige motorgroep met meer as 17 takke. Dewald is as verkoopsbestuurder van dieselfde handelaarskap aangestel.
Divan, hulle oudste seun, is reeds aanvaar by Paarl Gimnasium en hierdie behoort ook vir hom ’n blink toekoms te voorspel. Divan het Griekwas verteenwoordig by die nasionale 0/16 rugbyweek.
De Wet gaan vir eers skool aan ie Hoërskool Robertson. Met sy groot hart sal daar vir hom ook geleenthede wees, maar vir eers moet hy sy voete hier vind.
“Ons groet Kimberley met ’n swaar gemoed. Hierdie was my tuiste vir 43 jaar en Dewald s’n vir 25 jaar. Ons laat Kimberley en sy sout-van-die-aarde mense agter, maar sal altyd dankbaarheid en goeie herinneringe in ons harte koester vir die maatskappy wat ons vir soveel jaar gedra het,” sê Karen.
“Die goeie nuus is dat ons net so inskakel by nog ’n Ford-handelaar, so ons kliënte word nie agtergelaat nie. Dieselfde diens, lojaliteit en ondersteuning kan net so voort bly staan en ons gaan poog om die bande wat ons gebou het sterker te bou,” sê Dewald.
Vir ons kliënte: “Julle ken ons harte en dankie vir die pad wat julle saam met ons loop. Ons wil ook van die geleentheid gebruik maak om vir elke persoon wat ons pad gekruis het dankie te sê vir julle liefde en ondersteuning. Die groet is slegs ’n totsiens en nie vaarwel nie,” sê Karen.
Dewald en Karen begin hulle nuwe tog op 5 Oktober 2020 en die gesin verhuis binnekort Robertson toe.
Volg Find-it hier.



