50 Jaar na Griekwas Curriebeker verower

Deel hierdie storie / Share this story

Kimberley. -Vandag is dit presies 50 jaar gelede wat Griekwaland-Wes se rugbyspan die gesogte Curriebeker verower het.

Die Poubloues, onder leiding van Mannetjies Roux, het die gedugte Noord-Transvaal op De Beers-stadion op Saterdagmiddag 26 September 1970 welverdiend met 11-9 geklop om die gesogte goue beker te verower.

Griekwas staan geen kans

Die algemene gevoel by geesdriftiges en sportskrywers was dat Griekwas geen kans in die eindstryd gehad het nie.

Die spanne het op ’n winderige dag by ’n volgepakte De Beers-stadion afgeskop met die Noord-Transvaalse span die gunsteling om die derde agtereenvolgende jaar as kampioen gekroon te word.

Griekwas bring hul kant

Die besoekers, onder leiding van Piet Uys, het van die afskop behoorlik ingeklim. Griekwas het egter hul kant gebring en die jong vleuel, Buddy Swarts, het twee keer agter die pale gaan kuier. Piet Visagie het met een doelskop geslaag en Griekwas het 8-0 voorgeloop.

Chris Luther het met ’n strafskop geslaag en die tuisspan het die voordeel van die wind geniet en het rustyd met 8-3 voorgeloop.

Na rustyd het Noord-Transvaal met die wind agter hulle behoorlik ingeklim. Griekwas se verdediging was rotsvas.

Luther het met ’n tweede strafdoel die gaping na 8-6 vernou. ’n Drie deur Frik du Preez het die besoekers vir die eerste keer in die wedstryd 9-8 laat voorloop.

Hier gaan die damwal bars, het almal gevrees, Griekwas se verdediging het die besoekers se aanslae afgeweer.

Noord-Transvalers word onkant betrap

Met nog vier minute speeltyd oor word die Noord-Transvalers onkant betrap, so twee treë binne hul halfgebied.

Losvoorspeler Peet Smith tree nader en nie Piet Visagie nie, om met die lang skop van so 60 meter aan te lê pale toe.

Teen die wind tref Smith die bal suiwer en dit seil oor die dwarslat en Griekwas is 11-9 voor.

Die Noord-Transvalers kom met ’n finale aanslag, maar Griekwas staan sterk.

Die eindfluitjie blaas en die skare hardloop op die veld en die spelers word skouerhoog van die veld afgedra. Griekwas is weer Curriebeker-kampioene.

Die span wat 50-jaar gelede die gesogde goue Curriebeker huis toe gebring het.