Verbeel jou… Jy sit in die restaurant. ’n Robot kom vra vir jou of jy iets wil hê om te drink. Jy bestel ’n drankie en minute later kom ’n robot met ’n skinkbord na jou toe aangeloop. Jy plaas jou bestelling en die robotsjefs in die kombuis begin jou hamburger voorberei. Dieselfde robot sit jou hamburger en aartappelskyfies voor jou neer. “Geniet dit, Meneer,” in ’n robotstem.
Die ‘Foon On’-restaurant in Hong Kong het menslike werkers met robotte vervang. Geroge Mew, stigter van die restaurant, sê die restaurant maak nie net ten volle gebruik van die kombuisspasie nie, maar het ook baie beter higiëne as ander restaurante.
“Een van die redes is voedselveiligheid. Sjefs se vuil skoene, hare of kieme kan die veiligheid van voedsel beïnvloed.”
Sommige kliënte sê ’n robotsjef sal nie by ’n normale sjef kan kers opsteek nie. Ander verwelkom weer die idee van ’n robotsjef.
Diegene wat nie die restaurant wil besoek nie kan steeds hulle kos deur die afleweringsrobot afgelewer hê.
Hoe dink jy sal jy die restaurant ervaar? Sal jy so iets probeer?



