Griekwas speel Saterdag eerste wedstryd vir 2020

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die Griekwaland-Wes Tafel Lager-rugbyspan speel volgende Saterdag hulle eerste wedstryd vanjaar.

Die kragmeting is die eerste van twee oefenwedstryde teen die Vrystaat Cheetahs ter voorbereiding vir vanjaar se Curriebeker-kompetisie wat volgende maand afskop.

Scott Mathee, die Griekwa-afrigter, is verheug oor die span se eerste wedstryd in langer as ‘n jaar.

“Ons is bly vir hierdie kontakgeleentheid te voorbereiding vir die seisoen wat oor drie weke afskop,” sê hy.

Hierdie sal ook die eerste keer wees wat hy die span as hoofafrigter sal beheer. Hy sê weens die Covid-19-inperking en -riglyne was hul voorbereiding ‘n aanpassing en hierdie sal hulle geleentheid bied om hul kontak op te skerp.

Hierdie sal in alle opsigte ‘n oefenwedstryd wees en al die spelers in die groep sal speelkans kry.

Die eerste wedstryd volgende Saterdag is in Kimberley op Tafel Lager Park en die volgende Saterdag sal die twee spanne in Bloemfontein kragte meet.

Ongelukkig word toeskouers nog nie by sportbyeenkomste toegelaat nie. Detail oor die wedstryd en die span sal vroeg volgende week bekend gemaak word.