Dr. Abdulhay Munshi, die narkotiseur wat vervolg is oor die dood van ’n pasiënt, Zayyaan Sayed (10), is doodgeskiet.
Sayed het op 11 Oktober 2019 ’n laparoskopiese ondersoek by die Netcare Park Lane-kliniek ondergaan. Dr. Munshi was die narkotiseur van die operasie. Sayed is later die aand oorlede. Die betrokke dokters is na die kind se dood van strafbare manslag aangekla.
Volgens Angelique Coetzee, nasionale voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, is Munshi se motor in Johannesburg van agter deur ’n ander motor gestamp. Munshi het uitgeklim om die voorval te ondersoek waarna hy glo verskeie kere in die agterkop geskiet is.
Dr. Munshi was tydens die voorval op borgtog van R10 000 uit.
Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Narkotiseurs het berig die voorval word as ’n aanval op die land se medici beskou.



