President Cyril Ramaphosa het vanaand in sy toespraak gesê Suid-Afrika is deur die ergste van die pandemie.
Hy bedank Suid-Afrikaners wat tot dusver gedurende die pandemie en die inperking saamgewerk het in die stryd teen hierdie virus.
President Ramaphosa sê die infeksiesyfer wat daagliks minder is, maak dit vir die land moontlik om na vlak een van inperking te skuif. Beperkings op ekonomiese en sosiale aktiwiteite sal nou so min as moontlik wees.
Vlak een sal dus van Sondagaand om 12:00 af ingestel word.
Meer mense mag byeenkomste bywoon, solank meer as 50% van die venue se kapasiteit nie beset word nie.
Sosiale distansiëring, maskers en ontsmetting moet steeds gehoorsaam word. By buitelugbyeenkomstes sal 500 mense toegelaat word en 250 mense mag op ‘n keer binnenshuise byeenkomste bywoon.
Gimnasiums sal toegelaat word om ook teen 50% van hulle kapasiteit te funksioneer.
Reis in en uit Suid-Afrika sal vanaf 1 Oktober toegelaat word. Reis na lande met hoë infeksiesyfers sal wel beperk word. ‘n Lys van dié lande sal nog gepubliseer word. Slegs drie van die land se grootste lughawens mag gebruik word.
Jy het ‘n negatiewe Covid-19-toets van minder as 72 uur gelede nodig om te kan vlieg. Diegene wat simptome van die virus toon, sal in kwarantyn geplaas word tot hulle weer getoets kan word.
Die aandklokreël is verander na 12:00 – 04:00.
Alkohol mag nou van Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 17:00 verkoop word.













