SUID-AFRIKA. – Meer as 15 000 mense is die laaste ses maande in die nasionale ramptoestand oorlede. Altesaam 12 000 nuwe daaglikse gevalle is twee maande gelede tydens die piek aangekondig, maar dit het na ’n gemiddeld van 2 000 gedaal. Die herstelkoers staan tans op 89%.
President Cyril Ramaphosa is bekommerd oor die moontlikheid van ’n tweede vlaag van positiewe gevalle indien inperking te vinnig gelig word. Dit het in baie ander lande gebeur en hulle moes dus die maatreëls weer versterk.
Die president vra alle Suid-Afrikaners om die Covid Alert-toep af te laai. Dié toep sal mense in kennis stel indien jy met iemand in kontak was wat positief getoets het.
Suid-Afrika neem deel aan die entstofproewe wat wêreldwyd plaasvind.
Suid-Afrika het ’n maand gelede na vlak 2 beweeg, maar dit is veilig vir die land om na die volgende vlak te beweeg. Die president het dus besluit die land skuif na vlak 1 vanaf middernag 20 September 2020.
Vlak 1 hou die volgende maatreëls in:
• Meer mense mag byeenkomste bywoon, solank meer as 50% van die venue se kapasiteit nie beset word nie;
• 100 mense mag nou ‘n begrafnis bywoon;
• Gimnasiums mag 50% van hulle kapasiteit benut;
• Internasionale vlugte gaan ook vanaf 1 Oktober 2020 hervat, maar word beperk tot sekere lande wat later bekend gemaak sal word. King Shaka-, OR Thambo- en Kaapstad-lughawens sal dié vlugte hanteer.
• Die aandklokreël is nou vanaf middernag tot 04:00.
• Alkohol mag nou vanaf Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 17:00 verkoop word.



