September 28, 2020

Swart Maandag: Iemand benodig om Kby se optog te lei

“Dis bloot ’n vredesoptog met die doel om ’n boodskap van hoop aan Suid-Afrikaners te bring. Ons hou ons oë doelgerig op die boere en op wat ons wil bereik. Geen politiek, rassisme of ou Suid-Afrikaanse vlae sal gedurende die optog geduld word nie. Ons bring slegs hulde aan boere in Suid-Afrika wat sedert 2017 hulle lewens in plaasaanvalle verloor het.”

Die Swart Maandag nasionale vredesoptog vind vanjaar in 500 dorpe regoor Suid-Afrika plaas.

Valerie Byliefeldt, een van die organiseerders, sê die Swart Maandag-beweging het in 2017 vlamgevat na ’n boer in Klapmuts in die Boland tydens ’n plaasaanval oorlede is.

Die optog in Kaapstad sal deur die motorfietsryers in dié stad begelei word.

’n Kruislegging, met ’n kruis wat naamplaatjies van al die boere wat sedert 2017 hulle lewens in plaasaanvalle verloor het bevat, sal op ’n plaas in die Paarl plaasvind.

In hierdie stadium is daar nog nie ’n organiseerder of iemand wat in Kimberley na vore gekom het om dié dorp se optog te lei nie. Byliefeldt sê die eerste 25 voertuie wat in elke dorp aan die vredesoptog gaan deelneem, sal ’n wit kruis-plakker ontvang en die eerste 25 gesinne sal elk ’n plakkaat ontvang.

As jy in Kimberley woon of graag dié stad wil begelei, kontak vir Valerie by 072 368 2044 om die nodige reëlings te tref.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: