KIMBERLEY – Clicks-winkels moes vanoggend hulle deure toemaak na die EFF al drie winkels in Kimberley besoek het.
Aubrey Baartman, EFF-voorsitter in die Noord-Kaap, het aan FiND iT gesê hulle lede het vanoggend Clicks in New Park-sentrum, Diamond Pavillion-mall en Northern Cape-mall besoek om te verseker hulle is nie oop vir die publiek nie.
’n Nasionale verskoning
Baartman sê Clicks-winkels mag volgens hulle weer oopmaak wanneer hulle ’n nasionale verskoning uitgestuur het en die kontrak met die betrokke maatskappy in die advertensie kanselleer.
Volgens Baartman het die hoofkantore van Clicks in Kimberley ingestem om die winkels wel vandag toe te maak, maar daar is nog geen bevestiging of hulle môre sal oop wees nie. FiND iT het kontak gemaak met die PHR-agentskap van Clicks en wag op terugvoer.
Openbare verklaring op sosiale media
’n Werknemer van Clicks by die New Park-sentrum het bevestig die EFF was by dié winkel en het hulle 20 minute gegee om op te pak en die winkel te verlaat. Polisie het by al die Clicks-winkels gewaak om seker te maak geen onluste vind plaas nie.
Vikesh Ramsunder, die hoof uitvoerende beampte van Clicks, het in ’n openbare verklaring op sosiale media verskoning gevra vir die skade wat deur die foto’s in die advertensie veroorsaak is. Ramsunder sê al is die foto’s van die advertensie deur die maatskappy TRESemmé gegee, aanvaar Clicks volle verantwoordelikheid. Hy sê TRESemmé het ook ’n verskoning uitgereik.
Die EFF het in hulle toespraak aan bystanders gesê hulle sal môre weer deur die dorp gaan en die winkels besoek om seker te maak die deure bly toe.
Volg Find-it hier.



