Die tientalle reaksies van lesers wat vra dat FiND iT die “ander kant” van die Serfontein-saak moet stel, verdien kommentaar – vanuit ’n media-etiese oogpunt.
Onder die opskrif “Serfontein-saak weer uitgestel”, het die webtuiste gister (25 Augustus) berig dat Petrus Serfontein (58) en sy seun, Adam (25), daardie dag weer in die landdroshof in Kimberley verskyn het.
Die berig het die volgende inligting bevat:
- Petrus is die eienaar van Hancor-boerdery in Kimberley;
- Hy en sy seun word aangekla van aanranding en die rig van ‘n vuurwapen;
- Die voorval het op 9 Mei 2020 om ongeveer 13:00 plaasgevind;
- Hulle is op 17 Mei in hegtenis geneem;
- Borg is aan albei toegestaan; en
- Die saak is uitgestel omdat die ballistiese verslag nog nie gefinaliseer was nie.
Bogenoemde is alles feite en kan deur niemand betwis word nie. Die lesers wat gekla het, het dit daarom ook nie in twyfel getrek nie – hul kagtes het eerder gegaan oor die redakteur wat nie die “ander kant” van die saak gestel het nie.
Die vraag is hoe regverdig so ‘n “klag” is. Meer presies: Mag ‘n redakteur die “ander kant” van ‘n saak stel nog voor sulke getuienis in die hof gelewer is?
Die antwoord hierop is ‘n onomwonde “nee”. Dit is die taak van die verdediging, en van die verdediging alleen. Sou die media begin om skuld of onskuld te propageer, gaan die hof die eerste wees om beswaar daarteen aan te teken.
Die media durf nie in hofsake inmeng nie! En dit is presies waarop die stel van die “ander kant” in hierdie stadium gaan neerkom.
Die “ander kant” van die saak sal wel gestel word – wanneer die aangeklaagdes hul kant van die saak in die hof stel. Dit is dán die geleentheid wanneer die media oor die “ander kant” moet berig. Versuim om dit te doen bied meer as genoeg rede om te kla. So ‘n klag sal by die SA Persombudsman slaag.
Let ook daarop dat FiND iT nie gesuggereer het dat die Serfonteins skuldig is nie. As die webtuiste dit gedoen het, het lesers rede gehad om te kla. Dít het egter nie gebeur nie.
Dis regtig jammer dat sommige lesers verder gegaan het deur die redakteur in die proses te beledig – terwyl sy bloot haar werk gedoen het deur inligting aan die publiek te gee wat in die openbare belang is.
My versoek aan die lesers wat gekla het, is daarom eenvoudig: Beoefen ‘n bietjie geduld – FiND iT sal wel oor die ander kant berig wanneer die tyd daarvoor ryp is. As dít nie gebeur nie, sal ek die eerste wees wat die redakteur daaroor sal aanspreek.
Johan Retief
FiND-iT: Interne ombudsman
Voormalige SA Persombudsman
- Dr. Johan Retief was vir bykans ‘n dekade lank die ombudsman van die Suid-Afrikaanse Persraad. Retief is ook FiND iT se interne ombudsman en maak seker daar word op niemand se tone getrap nie. Hy het ‘n doktorsgraad in teologie wat hy in 1982 in dogmatiek onder wyle prof. Willie Jonker behaal het.



