Optog teen plaasmoorde dié naweek in Kimberley

Deel hierdie storie / Share this story

Die motorfietsryers van agt klubs in Kimberley beplan om dié Saterdag by die Shell Ultra City-vulstasie in Kimberley bymekaar te kom en van daar af ‘n afgemerkte roete deur die stad te volg.

“In dié stadium van die geveg gooi meeste mense ’n blinde oog as dit kom by plaasaanvalle en -moorde in ons land. Ons het egter besluit dis nou die tyd om op ’n vreedsame manier aksie te neem teen hierdie dinge,” sê Henmar Wiese, president van die Iron Skulls MC Club in Kimberley.

“Ons grootste doel is bewusmaking. En ons wil graag hê die boeregemeenskap in Kimberley en die omliggende areas moet saamstaan. Ons streef almal tog na dieselfde doel.”

Enigiemand met enige tipe vervoer is welkom om aan die optog deel te neem.

Hulle beplan om wit armbande, wit kruise op hulle helmets en plakkate te dra.

Die konvooi sal dan aan die einde van die optog vir ’n oomblik by die sirkel stil raak om te bid, waarna elkeen in hul eie rigting sal gaan.