KIMBERLEY – Na twee verdagtes gistermiddag om 16:30 in Roodepan in hegtenis geneem is, het agt ander die Roodepan-polisiestasie met messe bestorm en aangedring daarop dat die twee verdagtes losgelaat word.
Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die polisielede kon die verdagtes, almal tussen die ouderdomme van 17 en 41, in hegtenis neem.
Een polisielid het klein beserings opgedoen. Ses messe is gekonfiskeer.
Die verdagtes word van aanranding, sameswering om te help om uit aanhouding te ontsnap, die besit van gevaarlike wapens en die verhindering van die polisie in die uitvoering van dienste aangekla
en sal binnekort in die landdroshof in Galeshewe verskyn.
Die ondersoek duur voort.



