Kby-Voortrekkers se “Sop-in-‘n-bottel-projek”

Deel hierdie storie / Share this story

Die Jakkals-span van die Rocco Knobel-Voortrekkerkommando in Kimberley het as deel van hulle gemeenskapsprojek besluit om koffiebottels vol sopbestanddele te maak om aan minderbevoorregtes te skenk.

Die span, wat uit graad 11-leerlinge bestaan, voltooi vanjaar hulle Presidentsverkenner-eksamen.

Die kommando se Verkenners moes leë koffiebottels en geld insamel om van hierdie projek-idee ‘n werklikheid te maak.

Hendrik Pretorius en Valmé van Wyk, provinsiale jeugleiers, sê dit was ‘n 10-dae-projek. Hulle het verlede Woensdag begin bottels insamel en het gister klaargemaak.

“Ons kon altesaam 1 000 bottels en geld om genoeg sopbestanddele te koop, insamel. Die Bye en die Gemsbokke het alleen 640 van die 1 000 bottels ingesamel. Ons dink dis wonderlik vir net 10 dae!”

Chris Human, die Jakkalse se spanoffisier, sê hulle mik om vandag 1 000 bottels vol te maak. Die bottels sal dan aan ses kerkgenootskappe en Caritas oorhandig word. Van die bottels sal ook aan Brandvlei en Williston geskenk word.

“Verder wil ek dan namens almal hier by die Voortrekkers baie dankie sê aan die FAK, die Afrikanerbond, Nonna Botha van Immediate Printing en Alten Oosthuizen vir die bydrae wat hulle tot ons projek gemaak het,” sê Human.

https://www.facebook.com/finditnuus/videos/1667544036757453/