“Toe ek hom sien, was my eerste reaksie om hom te slaan. Dis eers toe ek daarna agter die boom gaan wegkruip het, dat ek besef het wat besig is om te gebeur. As dit nie vir die Here was nie, sou ek dit nie kon doen nie.”
Wiroeske de Wet, ‘n graad 11-leerling aan Hoërskool Reitz in die Vrystaat, het ’n plaasaanvaller met die vuis bygedam toe sy op hom in hulle plaashuis afgekom het.
“Ek en my ma was dorp toe om van ons werkers daar te gaan aflaai. My boetie het by die huis gebly, want hy het nie lekker gevoel nie. Toe ons by die huis aankom, het ek gedink dis vreemd dat ons hondjies of my boetie nie uitkom nie.”
Wiroeske vertel sy en haar ma, Retha, het toe gedink haar boetie het bietjie gaan lê.
“Toe ons by die deur kom, het ons gesien die voordeur is oop. Ek het eerste by die huis ingestap. Dis toe ek in die gang kom, dat een van die twee aanvallers op my afgestorm gekom het. Ek het eers gedink dis my boetie, maar toe ek sien dis ’n swart man, was my eerste reaksie om hom te slaan,” vertel Wiroeske.
“Hy was vir ’n paar sekondes uit. Toe ek terugstaan, het my ma my by die deur uitgestoot. Dis toe dat ek agter die boom gaan wegkruip het en iemand gebel het om te kom help.” Sy vertel hoe magteloos sy gevoel het toe sy nie kon sien wat in die huis aangaan nie.
Die ander aanvaller, wat Wiroeske se boetie in die kamer vasgemaak het terwyl hulle weg was, het haar ma toe met ’n ysterpyp bygekom. Hy het haar na die kamer gedwing en vir haar gesê dat hulle geld soek. Wiroeske vertel hoe hy haar ma weer met die pyp bygekom het toe sy die kamer se lig wou aansit.
Tienus, Wiroeske se boetie, sou hulle later vertel dat die aanvallers in die huis was net na Wiroeske en haar ma dorp toe is. Hulle het hom met dieselfde ysterpyp oor sy knieë en op sy kop geslaan, hom in sy kamer vasgebind en ’n lap in sy mond gedruk, sodat hy hulle nie kon waarsku nie.
“My ma het toe vir hom die geld uitgehaal en hulle het buitentoe gekom. Omdat altwee van hulle toe daar was, kon ek nie goed genoeg agter die boom wegkruip nie, en hulle het my gevang,” vertel Wiroeske.
Die aanvallers het toe vir die kar se sleutel gevra. “Hulle het heeltyd gesê hulle moet nou ry, want ek het klaar vir hulp gebel. Hulle wou my ma saamvat, maar ek het gesmeek dat hulle dit nie doen nie. Hulle is op die ou end met die geld en ons voertuig weg.”
Wiroeske sê hulle vermoed die huishulp het die sleutel in hulle huis se voordeur gelos en dis hoe die aanvallers kon ingaan.
“Behalwe vir my boetie se kop wat lelik stukkend geslaan is, is niemand te ernstig beseer nie,” sê sy.



