Die polisie het gister die ouers van ’n ses maande oue babadogtertjie in hegtenis geneem op klagtes van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en kindermishandeling.
Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, verwelkom die inhegtenisname. Dié eenheid het dokters op 24 Julie vanjaar ondersteun om die strafregtelike klagtes in te dien.
Die baba is nou in veilige bewaring.
Volgens AfriForum is die baba in Julie in ’n hospitaal in Pretoria opgeneem met verskeie beenbreuke. Sy is in April, toe sy vyf weke oud was, ook in die hospitaal opgeneem. Sy het toe ook beserings gehad wat op kindermishandeling dui.
Haar dokters en ’n privaat maatskaplike werker het toe ’n saak by die polisie aanhangig gemaak en aanbeveel dat die baba uit haar ouers se sorg verwyder word.
Die ouers het wel in die hof verskyn, maar die klag teen die pa is teruggetrek weens ’n skynbare gebrek aan getuienis.
Die baba was in daardie tyd in haar ouma se sorg geplaas, maar is intussen weer aan die ouers terugbesorg.



