KIMBERLEY – Agt van Hoërskool Adamantia se leerlinge het Saterdag 15 Augustus aan die Food and Beverage Institute (FBI) se jaarlikse sjefkompetisie deelgeneem.
Carmen Bekker, Dillen Kruger, Tiaan Erasmus, Chamon Olyn, Anke Brits, Kayla Oosthuizen, Thato Moraile en Franshelle Buffel is graad 12- gasvryheidstudieleerlinge. Die leerlinge het elkeen ’n studiebeurs ter waarde van R10 000 van FBI ontvang.
Elke leerling het drie ure gehad om sy disse voor te berei. Hierdie disse was beperk tot sekere verpligte bestanddele soos hoender vir die hoofgereg en donker sjokolade met bessies vir die nagereg. Elke deelnemer se disse was kreatief en verbeeldingryk.
“Adamantia is baie trots om te kan sê dat die Noord-Kaap se eerste en tweede plek Addie-leerlinge is. Kayla Oosthuizen behaal ’n eerste plek met ’n R30 000-beurs en Dillen Kruger behaal ’n tweede plek met ’n R20 000-beurs. Ons wens hierdie leerlinge alle voorspoed toe vir die toekoms en mag julle altyd Addies se naam hoog hou,” sê Tanya Jordaan, onderwyseres by Hoërskool Adamantia.




