KIMBERLEY. – Medelye stroom in vir Conrad Prinsloo (32) wie gister oorlede is. Prinsloo, ’n oudleerling van Hoërskool Diamantveld, word oorleef deur twee jong kindertjies, sy vrou, Karyn Prinsloo en sy ouers. Beide sy ouers is bekende landdroste in die stad.
Prinsloo is gisteroggend 17 Augustus 2020 met ’n skietwond in sy bors in sy ouerhuis in Monument Hoogte gevind. Hope boodskappe van vriende is op sy Facebook-profiel gelaat.
Gini Scholtz, wat saam met Prinsloo werksaam was by General Refrigeration, sê dit is vir almal ’n geweldige skok. “Hy was ’n wonderlike persoon. Die sagste hart en baie liefdevol. Hy was geliefd onder al General Refrigeration se werkers en was ’n legende op sy eie. Sy sin vir humor en flou grappies het ons lekker laat lag en hy sal beslis gemis word. Ons is baie hartseer.”
Maronelle Blomerus het op Prinsloo se Facebook-profiel gesê: “Jy sien hom of haar. Altyd die glimlag. Altyd die grappie. Vol lewe. Vol liefde. Wat jy nie sien nie is die swaar, die seer, die begeerte om nie te glimlag nie. Die begeerte na iets meer. Wat jy nie sien nie is hoe die voete onder die water skop en trap om kop bo water te hou. Wat jy nie sien nie is dat wanneer jy vra hoe dit gaan, jy dalk nie die regte, ware antwoord kry nie. Wat jy nie weet nie, is wat werklik diep binne in enige iemand se siel aangaan. Ons moet meer bewus raak van mekaar se leed en nie net altyd konsentreer op die glimlag nie. Wees werklik teenwoordig, dalk net dalk is jou woorde, jou druk, jou omgee wat op daardie oomblik nodig is. Ai ou Conrad, tragiese dag. My hart pyn vir jou familie en geliefdes. Jou kindertjies. Ons is net te vasgevang in ons eie lewens. Die wêreld moet wragtig wakker skrik. Ons het net mekaar.”
Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, het aan FiND iT gesê ’n 32-jarige man is in ’n huis in Jawnostraat met ’n skietwond aan sy bolyf gevind.



