Al hoe meer inwoners van Kimberley is ontsteld oor die pale wat deur ’n maatskappy van die Kaap, Frogfoot, in Kimberley opgerig word.
Dié pale, waaraan daar optiese kabels gehang word, word regoor Kimberley opgesit, in plaas daarvan om slote te grawe.
Ockie Fourie, DA-raadslid, sê hy is al raadop. “Ons raadslede is nie genader vir insae oor wat Frogfoot in Kimberley doen nie. Ons het nooit ’n vergadering gehad nie. Ons almal wil weet wat aangaan. Ek ontvang daagliks verskeie oproepe oor die pale wat by mense se huise opgesit word.”
Een ontstoke inwoner het gesê sy sal die paal tot op die grond afsaag. “Ek soek dit nie! Hulle kan slote grawe soos al die ander diensverskaffers. Hoekom moet hulle drade aan pale hang? Dit lyk vieslik!”
Marie Beyleveld, DA raadslid in Southridge, sê die inwoners is baie ongelukkig. “Van die pale en veral die hoekpale, veroorsaak dat inwoners nie meer op hulle sypaadjies kan parkeer nie. Daar woon heelwat ouer mense in dié area en baie van die gate word nie toegemaak nie.”
Beyleveld sê die inwoners het gesê hulle sal die drade afknip. “Die hoekpale het nog twee pale wat die een pad stut. Die paaie is te nou om in die pad te parkeer. Dit is ook sleg dat waar hulle gegrou het hulle net so gelos nie.”
Beyleveld sê dit is nooit in die raad of op enige komitee bespreek nie.
Kayleigh Rossler, woordvoerder vir Frogfoot, sê Frogfoot is in die proses om met die erfenisraad te vergader oor pale wat hulle beoog om in die erfenisgebiede van Kimberley op te rig. Die werk in Beaconsfield, Klisserville en Belgravia is gestop nadat inwoners geweier het dat pale hier opgesit word.
“Die erfenisraad se impakstudie moet eers afgehandel word. Dit sluit openbare deelname in. Daar sal dan besluit word wat is die korrekte manier om optiese kabels in dié area in sit.” Sy het erken dié impakstudie is nog nie gedoen nie, alhoewel werk in die areas reeds begin het en later gestop is.
Rossler sê verder Frogfoot het ’n span mense aangestel wat die bome wat moet gesnoei word as gevolg van die pale, sal onderhou.
Rossler sê die maatskappy het “minder as 10” klagtes oor die pale ontvang. “Ons het elkeen individueel aangespreek.”
Sy sê die rede vir die pale is ’n gesamentlike besluit deur Frogfoot en die Sol Plaatje munisipale raad as gevolg van “swaar klipperige areas” en om te vermy dat bestaande dienste benadeel word.
Enigiemand wat ’n probleem het met ‘n paal wat hulle ingang versper, kan Frogfoot by [email protected] kontak.
Fourie het vroeër ‘n petisie begin. Jy kan die petisie hier onderteken as jy nie van die pale hou nie.



